| |
KersfeesboomDie "Kersfeesboom" wat nou in Februarie blom! | |
| Kaapse/wilde kastaiing / Cape chestnut. Calodendrum capense. SA Boomnr 256. Toeriste wat nie gedurende Desember (veral rondom Kersfees) hier was nie, het ‘n groot meevaller gekry: die Kaapse kastaiing blom nou eers! Hierdie besondere boom met sy groot ligpienk trosse blomme wat dikwels die hele kroon van die boom oordek, blom meestal van die begin van Desember af met ‘n hoogtepunt teen Kersfees. Die reën het verlede jaar eers in November lekker begin val en gevolglik blom die Kaapse kastaiing vanjaar eers hier in ons kontrei van middel Januarie af. * Nov. 2006: die Krismisboom het nou alreeds begin blom (as gevolg van die die hoë reënval in Augustus?) (Nasate van oom Hendrik Grootrivier (Barnardo) van Nature’s Valley stigtersfaam, vertel dat hy die Kaapse kastaiing die Krismis-boom genoem het.) | |
| Jy kan nou na hierdie skouspel gaan kyk – dit is net ’n paar kilometer buite Plett te sien. Ry met die N2 uit Plett (in die rigting van Port Elizabeth) tot amper bo-op Keurboomshoogte. Draai regs by die afrit na Keurbooms (nie die een by “Thyme & again” nie – verder), parkeer jou motor net daar en stap terug en versigtig oor die N2-pad vir die beste uitsig. Kyk na die foto regs onder en dit is wat jy sal sien: in die kloof blom talle Kastaiings uitbundig (31 Januarie 2006). Jy kan ook by Nature’s Valley in Kalanderkloof in die pas (links af - op die R102) talle Kaapse kastaiings nou aan die pronk sien. As jy die bome van onder af wil besigtig, kan jy met die wandelpad wat by die ingang na Nature’s Valley begin, in die kloof in opstap. Bring net jou verkyker saam want die bome is groot en die blomme sit HOOG! Die spesienaam (capense) van hierdie boom verwys na die Kaap waar hierdie boom in 1772 naby Swellendam by Grootvadersbosch deur die Sweedse plantkundige Carl Thunberg ontdek is. Hierdie boomsoort kom dwarsdeur die berg- en kusbosse van die Suidwes-Kaap tot in die Soutpansberge en verder noord tot in tropiese Oos-Afrika voor. Die boom kan ‘n hoogte van 20 meter bereik en het baie groot teenoorstaande blare met ‘n hoofnerf en ongeveer 25 pare syare. | |
CopyRight©2003-2008 Prepared maintained by C.P.S. 1 - 080307 NatVal1 | |