Nature’s Valley Nuus

 

 

                                                                                                            Posbus 222

Lagoonrylaan 388                                                                                 The Crags 6602

Kantoorure:                                                                                          natrpa@worldonline.co.za

9 – 12 vm                                                                                             Tel:       044 531 6699

Ma/Wo/Do                                                                                          Faks:    044 531 6668

 

Nr 22                                       Redakteur: Jeanne Biesenbach                                           April 2008

 

Voorsitter en NVBV komitee

 

KOM ONS STEEK HAND IN EIE BOESEM!

 

Die NVBV komitee voel dat dit noodsaaklik is om die afgelope Desember-vakansie in oënskou te neem sodat elke belastingbetaler deeglik bewus is van die probleme wat ondervind is. Ons doel hiermee is:

·        om te rapporteer oor die soms chaotiese toestande wat tydens die vakansie geheers het;

·        om te probeer verhoed dat sulke situaties weer ontstaan;

·        om te versoek dat eienaars verantwoordelikheid neem vir die persone wat op hulle persele bly;

·        om ‘n dringende beroep op alle eienaars te doen om die riglyne en regulasies wat noodsaaklik is vir die behoud van Nature’s Valley se pragtige en ongerepte natuurlike omgewing, na te kom.

 

Vullisverwydering

Gedurende Desember vakansie het ons groot probleme ondervind met dienslewering deur Bitou munisipaliteit. Die feit dat huishoudelike afval nie verwyder is nie en dat daar geen voorsiening gemaak is vir bykomende vullisverwydering tydens piekseisoen nie, het gelei tot ‘n ernstige krisis by die reeds misbruikte vullis transito depot, wat vinnig ge-eskaleer het tot ‘n gevaarlike gesondheidsrisiko. Die toestand is verder vererger deur die feit dat SANParke ons depot gebruik het omdat hulle na die vloed van November geen toegang gehad het tot hulle terrein by Bloukrans nie. Ons is gekonfronteer met ‘n berg vullis wat tot aan die rante van Forestrylaan gestrek het, en is gedwing om maatreëls te tref wat op die AJV van 27 Desember goedgekeur is. Die NVBV het ‘n privaat vullisverwyderingsdiens gekon-trakteer om die depot skoon te maak en vir die res van die vakansie te diens. Dit het vir die NVBV R27000 00 gekos. Ons onderhandel met Bitou vir die terugbetaling van die bedrag maar was tot dusver nie suksesvol nie.

 

MAAR:  Na alles gesê en gedaan is, moet ons erken dat ‘n groot deel van die probleme deur ons eie toedoen ontstaan het.

Die vullis transito depot is slegs bedoel vir die berging van vullissakke.

·        Gedurende Desember is bourommel, afvalmetaal, uitgediende meubels en selfs toksiese afval daar gestort.

·        Oorvol vullissakke wat baie keer oopgebars het en die inhoud uitgestrooi het, is eenvoudig net neergegooi. Meer as ‘n jaar gelede, na die 2006 Desember vakansie, het die munisipale werkers wat vullis in die Vallei verwyder ‘n petisie aan die NVBV oorhandig waarin hulle gesê het dat hulle nie langer bereid sou wees om die depot skoon te maak nie indien die misbruik daarvan voortgegaan het.

·        Vullissakke is weer eens  op sypaadjies gelaat op dae wat vullis nie verwyder word nie.

·        Tuinvullis is in die fynbosreservaat en aan die bokant van die Grootrivierpas by die Eskom serwituut in De Vasselot gestort.

·        Bourommel is in een van die stormwaterkanale gestort op ‘n tydstip toe die Vallei na die vloed probleme ondervind het met dreinering.

 

Strandmeer en strand

Die groot getalle dagbesoekers wat tydens sekere vakansiedae gedurende piekseisoen na Nature’s Valley stroom, skep ongetwyfeld reuse probleme wat sanitasie, rommelstrooiing, geraas en parkering betref, maar daar moet in ag geneem word dat dit slegs vir ‘n paar dae gedurende die jaar gebeur. Van die bykomende patrollering van die strand en strandmeer en die addisionele skoonmaakspanne wat ons versoek het en belowe is, het niks gekom nie.

Ernstige kommer is uitgespreek oor die kapasiteit en ervaring van die lewensredders wat gedurende die vakansie aan diens was om noodsituasies tydens onstuimige seetoestande te hanteer. Die aanstelling en bestuur van lewensredders is ‘n munisipale funksie waaroor die NVBV geen jurisdiksie het nie.

MAAR:

·        Onwettige en gevaarlike staanvure is op die strand en rante van die strandmeer gemaak tydens uiters luidrugtige partytjies wat tot die vroeë oggendure geduur het. Bottels wat op die vure gegooi is, het ontplof en die omliggende area met gevaarlike glasstukke besaai. Besorgde nabygeleë inwoners wat versoeke om bedagsaamheid aan hierdie persone gerig het, is gevloek.

·        Een van die groot hope dryfhout op die strand is aan die brand gesteek; kon nie heeltemal geblus word nie en het vir weke gesmeul. Die gebied moes afgesper word.

·        SANParke amptenare is tydens die uitvoering van hulle pligte gevloek.

·        Persone wat die bywette aangaande honde flagrant verontagsaam, het toegelaat dat honde sonder leibande op die strand en by die strandmeer rondhardloop; het honde in die beskermde voorste duin losgelaat; het geen ag geslaan op die tye wat honde nie op die strand en by die strandmeer toegelaat word nie, en het nie die ontlasting van honde verwyder in die gratis hondesakkies wat deur die NVBV uitgereik word nie.

 

Residensiële gebied

·        Eienaars het voortgegaan met onwettige boubedrywighede en nie planne by die NVBV en munisipaliteit ingedien nie.

·        Daar was gevalle van eienaars wat groepe van tot 30 persone op ‘n eiendom gehuisves het sonder inagneming van die gebrek aan infrastruktuur, veral riolering.

·        Tente en karavane op eiendomme was teenstrydig met die bywet wat kampering in ‘n residensiële gebied verbied.

·        Klagtes is ontvang van voertuie wat deur die Vallei gejaag het en voetgangers en kinders in gevaar gestel het.

·        In sinnelose dade van vandalisme is meterbokse beskadig en die slotte oopgebreek

·        In ‘n opsetlike daad van vandalisme is twee bande van die voertuig van ‘n komiteelid stukkend gesny.

 

ONDERSTEUN ASSEBLIEF ONS POGINGS OM DIE PRAG EN RUSTIGHEID VAN NATURE’S VALLEY TE BEHOU.

 

Bekendstelling van 2008 NVBV komitee

 

Ons is bevoorreg om ‘n kundige en entoesiastiese komitee te hê wat in 2008 aan die stuur van sake staan. ‘n Paar jaar gelede het dr Dick Birkill, gewese voorsitter van die NVBV, ‘n stelsel van portfolio’s ingestel waarvolgens die werksaamhede van die komitee tussen verskillende lede op so ‘n wyse verdeel is dat elke persoon op sy eie gebied van kundigheid kan konsentreer. Die stelsel werk uitstekend en ons het van die portfolio’s verander of gekombineer en party bygevoeg.’n Lys van portfolio’s met konvenors en lede volg:

 

Uitvoerende komitee: (optree in noodgevalle tussen vergaderings)

Voorsitter: Ina Brand-van Rooyen

Adjunk-voorsitters: Doug Blaine en Jeanne Biesenbach

Tesourier : Piet Oosthuizen

 

Portfolio’s: (in alfabetiese volgorde)

 

Beboude omgewing: (stadsbeplanning, bouplanne en regulasies, advertensietekens, ens) Jeanne Biesenbach (konvenor), Japie Mohr, Stef Naude, Diana Woode, Jan Strydom (geko-opteer), Bertie van Zyl (geko-opteer)

Ruimtelike ontwikkelingsraamwerk: Conrad Wiehahn

 

Eksterne kommunikasie: (Bitou huiseienaars-vereniging, wykskomitee, Covie en ander verenigings) Gordon Paterson (konvenor), Ina Brand-van Rooyen

 

Finansies: Piet Oosthuizen

 

Infrastruktuur: (water, elektrisiteit, riolering, afvalbestuur, paaie) Doug Blaine (konvenor), Juan le Roex, Dries Lategan, Johan Grobbelaar

Afvalbestuur: Frans Wagener (geko-opteer)

Loods-subkomitee vir riolering: Frans Wagener, Geoff  McIlleron, Frans Kapp

 

Kantoor administratiewe assistent:  Marie Joubert, Maaike Murphy (ad hoc)

 

Kontraktuele gebied bestuurskomitee: Marina Niven (konvenor), Ina Brand-van Rooyen, Michael Perlman, Doug Blaine, James Martin

 

Omgewing: (onderhandel met SANParke, skakel met NVTrust) Michael Perlman, Marina Niven

Die oopruimte subkomitee val onder hierdie portfolio, onder die voorsitterskap van Jill McIlleron

 

Nuusbrief: Jeanne Biesenbach (redakteur en vertaler), voorsitter en komitee (inhoud), Maaike Murphy (samesteller), Anton van Wyk (verspreiding)

 

Veiligheid, sekuriteit en verkeer: Vakant

 

Gemeenskap skakelbeampte:  Mornay du Plessis

 

Wyksverteenwoordiger: Paul Zietsman (nie-komiteelid wat die Vallei by wyksvergaderings verteenwordig)

 

Spesiale projekte: Van tyd tot tyd onderneem ons spesiale korttermyn projekte waaraan ‘n konvenor of werkgroep toegewys word. Tans is ons betrokke by die Grootrivierpas-projek onder leiding van Juan le Roex, Dries Lategan en Beefy Mance (geko-opteer), asook die CO2 voetspoor-projek met Kim Kruyshaar van die Nature’s Valley Bewarea aan die hoof. Ina Brand-van Rooyen en Michael Perlman is lede van die groep.

 

Die kontakbesonderhede van alle komiteelede is by die kantoor beskikbaar, waar ons sal graag navrae beantwoord en hulp bied waar ons kan.

 

Infrastruktuur: Doug Blaine, adjunk-voorsitter

 

Eienaars word daaraan herinner om die Infrastruktuur vraelys wat per aparte pos uitgestuur is, so gou moontlik te voltooi en aan die NVBV kantoor te besorg.

 

Grootrivierpas

Terugvoering van die Wes-Kaapse paaie-afdeling dui daarop dat R51miljoen uit die rampfonds vir herstelwerk begroot is. Alhoewel dit nog nie amptelik bevestig is nie, blyk dit dat herstelwerk aan die pas en brug in April 2008 ‘n aanvang kan neem.

 

Finansies: Piet Oosthuizen

 

Ons bedank alle eienaars wat reeds bydraes vir hierdie finansiële jaar gemaak het.  U ondersteuning word ten seerste waardeer.

 

Bydraes begroot vir 2007/8                                              R 90 000.00

Bydraes reeds ontvang                                                     R112 909.00

Bydraes as persentasie van die begroting                                  125.45%

Aantal bydraes uit ‘n moontlike 382 ontvang                           247

Persentasie bydraes uit ‘n moontlike 382                                    64.66%

 

Opvolgbriewe is uitgestuur aan eienaars wat nog nie bydraes vir hierdie finansiële jaar gemaak het nie. Van hulle het slegs 64 nog nooit die NVBV ondersteun nie.

 

Bankbesonderhede:

Rekening :        Nature’s Valley Belastingbetalersvereniging

Rekening nr.:    08 260 9217

Bank:               Standard Bank

Tak:                 Plettenbergbaai

Takkode:          050714

 

Maak asseblief seker dat u NAAM en ERFNOMMER ook op die inbetalingsbewys verskyn vir verwysingsdoeleindes.

 

Beboude Omgewing: Jeanne Biesenbach, adjunk-voorsitter

 

Boubedrywighede: Japie Mohr

Min bouplanne is sedert Nov. 2007 voorgelê – slegs 2 planne vir kleiner bouwerke, en 2 planne vir nuwe huise in Lagoonrylaan en St Michael’s respektiewelik. In beide gevalle word die ou huise gesloop en nuwe wonings gebou.

 

Grond ouditverslag

Die Land Audit Report van November 2007 volg op die vroeëre Draft Land Audit Report van Januarie 2007. Die nuwe verslag bestaan uit twee gespreksdokumente genaamd Towards a Spatial Policy for the Bitou Municipal Area  en  Towards a Policy for the Use and Development of  Municipal Land. Aangesien die dokumente potensieel verreikende gevolge inhou, is dit aan ons prokureur en stadsbeplanner vir verdere ondersoek deurgegee. Hulle sal ‘n verslag opstel wat ons in staat sal stel om oor toekomstige optrede te besin.

 

Erf 131:  toekenning van sonering

Tydens die Februarie Mayco vergadering het die munisipaliteit ‘n soneringstoekenning van residensieel 111 (dorpshuise) goedgekeur. Ons prokureur en stadsbeplanner ondersoek reeds die motivering vir hierdie besluit en sal so gou moontlik hulle bevindings aan ons deurgee. Ons sal met die 129 beswaarmakers in verbinding tree sodra ons die inligting ontvang.

 

Erf 171 Forestrylaan: (Aansoek vir die opheffing van beperkende titelvoorwaardes met die doel om die eiendom in twee dele te onderverdeel)

Tydens die Februarie Mayco vergadering het die munisipaliteit besluit om die Provinsiale Administrasie van die Wes-Kaap in kennis te stel dat hulle nie die aansoek om onderverdeling ondersteun nie.

 

Omgewing: Michael Perlman, Marina Niven

 

Owen Govender wat Christopher Singo vervang het, stem heelhartig saam dat die oorblywende bote en kano’s wat nie by die aangewese plekke vasgemeer is nie, verwyder moet word. Hy sal by SANParke bestuur toestemming verkry voor so ‘n stap geneem word.

 

Dryfhout

Die hope dryfhout wat op verskeie plekke op die strand gestapel is, sal verskuif en versprei word tot teenaan die voorste kusduin. Dit sal nie alleen die duin stabiliseer nie maar sal ook verseker dat waaisand die hout oor ‘n tydperk bedek.

 

Juweel van die Vallei

Die strandmeer is seker die mooiste en visueel opmerklikste gebied in Nature’s Valley. Dit is beide ‘n speelplek en ontspanningsgebied met kano’s, bote, seilplanke en hengel; ‘n bymekaarkomplek en rustige toevlugsoord met wonderlike stemmings wat daagliks wissel. SANParke en die NVBV werk nou saam om die gebied te vernuwe. Rusbanke is herstel en vermeerder. Bote en kano’s is na bootreëlings wat by die kant van die strandmeer aangebring is, verskuif.  Ons bedank eienaars vir hulle samewerking in die verband.

 

Grootrivier-monding komitee

Hierdie subkomitee het hulle slegs toegespits op die riviermond-gedeelte van die kontraktuele gebied. Tydens ‘n vergadering van belanghebbendes in Maart 2008 het almal saamgestem dat ‘n alternatiewe liggaam wat op ‘n meer omvattende en wetenskaplike basis die hele strandmeer-monding navors,geskep behoort te word. Die nuwe komitee val onder die Tsitsikamma Nasionale park en bestaan uit die volgende lede:

·        SANParke: organisasie en voorsitterskap.

·        SANParke wetenskaplike dienste: Ian Russell wat die strandmeermonding navors en monitor, is ‘n integrale lid van die komitee.

·        Nature’s Valley Belastingbetalersvereniging.

·        Nature’s Valley Trust: as ‘n belangrike dryfveer van die riviermonding projek, speel die NVTrust steeds ‘n kardinale rol. Hulle het nie alleen ontmoeting met wetenskaplikes gereël m.b.t beplanning van die monitor programme nie, maar het ook die wetenskaplike toerusting en instrumente wat hiervoor benodig word, aangekoop en geskenk. Hulle is ook behulpsaam met sekere aspekte van monitering bv fotografiese opnames.

·        Bitou munisiplaiteit: Hulle verantwoordelikheid is om die impak van die beboude omgewing vas te stel, veral m.b.t besoedeling van die strandmeer.

·        Prof Charles Breen: hidroloog en omgewingskundige, en Nature’s Valley eienaar.

·        Geko-opteerde kundiges soos nodig.

Die Grootrivier strandmeer-monding word beskou as een van die mees ongeskonde rivierstelsels in Suid-Afrika en monitering is noodsaaklik vir die behoud van die integriteit daarvan. Op een of ander stadium kan ontwikkelingsdruk vir grootskaalse water-onttrekking en moontlike ander gebruike ontstaan, en hierdie komitee moet verseker dat die gemeenskap daarop voorbereid is om die integriteit van die unieke rivierstelsel te behou. Monitering moet doelgerig wees en nie slegs ‘n wetenskaplike opname behels nie. Die wyse waarop inligting bekend gemaak word, is ook belangrik.

 

Kontraktuele Gebied: Michael Perlman, Marina Niven

 

As gevolg van personeelskommelings by die Tsitsikamma Nasionale park was dit nog nie moontlik om ‘n vergadering te belê nie. Christopher Singo wat werksaamhede in Nature’s Valley bestuur het, is in Maart na Agulhas verplaas. Owen Govender het by hom oorgeneem. Ons wens Christopher alles van die beste toe en verwelkom Owen in ons midde.

 

Oop Ruimteskomitee: Jill McIlleron

 

Nuus uit die Phyl Martinpark: Danie en Engela Muller

Dit gaan goed met die park en kwekery – flukse plantverkope en ‘n ruim skenking t.o.v. arbied deur die NVBV dek steeds onderhoudskoste. Ons merk dat al meer eienaars in die Vallei belangstel om plaaslik inheemse plante, en nie net groot bome nie, vir hul tuine aan te skaf. Dit is wonderlik om die groen benadering te sien groei, maar taaibosse, bitou, heide, septemberbos, bloukeur, kamferbos ens. is ook uiters geskik om te oorleef wanneer eienaars nie hier is om hulle te vertroetel nie. Hulle kan doeltreffend as natuurlike heinings gebruik word om onooglike areas te versteek. Om aan hierdie aanvraag te voldoen is Danie tans baie bedrywig om plantjies hiervan te vestig om in die somervakansie gereed te wees. Kom kyk gerus!

 

Ons gaan gereeld twee keer per jaar Kaap toe en maak gewoonlik ‘n draai by Kirstenbosch waar ons soms ‘n paar besondere plante kry. Een so ‘n plant, die seldsame heide Erica vertillicalata, groei tans welig in die park en het al tweekeer pragtig geblom. Toe ons aan die begin van Maart weer daar was, het ons ‘n toeristegids aan sy groep hoor vertel dat hierdie heide byna uitgewis is, en dat die een plant in Kirstenbosch die enigste in S A is! Hoewel nie heeltemal korrek nie het dit ons getref dat, buiten die plesier om dit te bedryf, die park in die Vallei sy beskeie bydrae tot die oorlewing van ons inheemse plante lewer.

 

Uitheemse indringerplante: Maaike Murphy

Dit is bemoedigend om te sien dat soveel eienaars Australiese swarthoute (Acacia melanoxylon) wat op hulle eiendomme staan, verwyder het. Hierdie bome is in ons woude aangeplant om stinkhout en geelhoute wat geoes is, te vervang. Hierdie boom het homself as ‘n indringer bewys wat elke jaar massas taai sade vrylaat en om hierdie rede is dit onwettig om swarthoute in tuine te laat groei. Die oopruimtes komitee wat deur die NVBV ondersteun word, monitor en vernietig gereeld swarthout boompies wat in die oop ruimtes en grasrante opkom.

Nog ‘n indringer wat baie skade aanrig, is die swaardvaring (Nephrolepis exaltata). Hierdie ornamentele varing wat uit Amerika afkomstig is, aard uitstekend in die Vallei en het langs die rante van die woud en paaie en in ons lopies versprei waar dit die inheemse varings, plante en bolle verdring. Ons het ‘n groot bos swaardvarings hoog op in de Vasselot gevind! Die enigste praktiese manier om die varings uit te roei is om herhaaldelik die plante met lopers en al uit te haal en in vullissakke toe te maak om te verhoed dat die spore versprei. Hierdie varings moet asseblief nie in die woud weggegooi word nie.

Die ergste verklaarde onkruid en indringer in die Vallei is die Madeiraranker (Anredera cordifolio). Madeira is ‘n geharde ranker wat vinnig ‘n mat oor inheemse bome vorm en baie skade aan die woud berokken aangesien daar geen vyand is wat die ranker in toom kan hou nie. Die oopruimtes komitee, gesteun deur SANParke en Werk vir Water, span saam om die verspreiding van die Madeiraranker te keer.

 

Eksterne Skakeling en Wykskomitee: Gordon Paterson

 

Daar is heelwat moeite gedoen om ‘n beter werkverhouding met die munisipale bestuur d.m.v. die wykskomiteestelsel te bewerkstellig. Die doel hiermee is om ‘n paralelle lyn van effektiewe kommunikasie te skep. Die Bitou huiseienaars-vereniging (nie meer Bitou belastingbetalers-vereniging nie) vergader steeds met die burgemeester maar doeltreffendheid het teen einde 2007 afgeneem. Om hierdie rede is daar besluit om in 2008 ‘n meer direkte benadering te volg vir sake wat prioriteit geniet.

Covie. Ons stel graag Helen Barnardo, ons eie ekogids, aan u voor. Helen woon in Covie en het haar opleiding deur die NVTrust ontvang. Sy konsentreer op Nature’s Valley, Covie en Stormsrivier en het ‘n besondere belangstelling in die natuurlike omgewing. As u ‘n gids benodig, kan u haar gerus by 076 0488592 of deur die Trust kontak.

 

Mense en gebeure: Michael Perlman

 

Welkom aan nuwe permanente inwoners Abri en Marita du Toit.

 

Musiekklub – 100ste byeenkoms

Ons het op 21 Februarie 2008 die 100ste byeenkoms van die Nature’s Valley musiekklub aan huis van Dick en Marietjie Birkill gevier. Dit was ‘n besonderse en merkwaardige gebeur-tenis en ons is trots daarop dat die klub al ‘n deel van Nature’s Valley se erfenis geword het. In Augustus 1997 is die eerste musiekaand, soos sommige lede verkies om dit te noem, deur 17 inwoners bygewoon – waarvan 5 steeds lede is!  Die groep is gemotiveer deur hulle liefde vir musiek en was gefrustreerd omdat dit so  moeilik was om uitvoerings by te woon. Daar  is geen grondwet, geen komitee, geen aansoekvorm en geen ledegeld nie – slegs mondelinge uitnodigings aan inwoners om ‘n aand by te woon. Nuwe inwoners word dikwels uitgenooi en dit is ‘n geslaagde manier om inskakeling te weeg te bring. Klassieke musiek sou as vertrekpunt dien, en byeenkomste sou eenkeer per maand op ‘n rotasiebasis an huis van een van die lede gehou word. Die gashere sou op ‘n program van hulle keuse besluit en dit aanbied. ‘n Volledige rekord van die programme wat reeds aangebied is asook lede wat teenwoordig was, word bygehou. Almal se waardering vir musiek is verbreed en ons geniet die verskeidenheid wat ons ervaar het.

 

In Memoriam

Mev ‘Curly’ Wallace is op 18 Februarie in die ouderdom van 95 oorlede. Sy besit reeds vir die afgelope 55 jaar eiendom in St Patricks en was ‘n bekende en beminde persoon in Nature’s Valley.

 

Reënvalverslag: Yvonne Bath

 

 

2004

2005

2006

2007

2008

Januarie

70

61

89

54

62

Februarie

86

49

20

41

48

Maart

82

109

62

97

42

April

61

47

101

30

 

Mei

21

46

100

102

 

Junie

42

23

46

41

 

Julie

34

13

91

40

 

Augustus

38

8

232

55

 

September

142

34

16

18

 

Oktober

74

14

57

86

 

November

20

93

61

308

 

Desember

203

46

60

89

 

Totaal mm

873

543

935

961

152