|

Posbus 222
Lagoonrylaan 388 The Crags 6602
Kantoorure: natrpa@worldonline.co.za
9 – 12 vm Tel: 044 531 6699
Ma/Wo/Do Faks: 044 531 6668

Ons voorbladfoto toon hoe pragtig Nature’s Valley daar uitsien in die vroeë herfs. Vanjaar het met so ‘n dolle vaart weggespring dat die seisoensverandering byna ongemerk by ons verbygegaan het. Met die intrapslag moes die nuwe NVBV komitee verskeie krisisse hanteer. Die 321 geskrewe besware teen die Bitou konsep grondoudit is op kort kennisgewing ingewin en afgelewer; verdere stappe moes geneem word teen die voorgestelde verkoop van dienste erwe 335 en 336; die Ninham Shand rioleringsverslag is voorgelê en ons kommentaar moes geformuleer word. Ons moes standpunt inneem teen voorgestelde ongewenste ontwikkelings en onderverdelings (sien omvattende Beboude Omgewing verslag). Verskeie ervare komiteelede is vanjaar met langverlof en boonop moes ons afskeid neem van ons eertydse superintendent, Gerhard Strydom.
Desnieteenstaande is dit ‘n voorreg vir die nuwe komitee om oor te neem by die ywerige en suksesvolle span van 2006. Bo en behalwe die belangrike sake wat deurlopende aandag geniet het, het verlede jaar se komitee verskeie korttermyn projekte aangepak waarby u direk baat gevind het. Tuinafval is byvoorbeeld in Desember op onkoste van die NVBV verwyder; die NVBV het ‘n werknemer betaal om daagliks die tydelike toilet by die ingang te versorg en ons het ook die salaris van arbeiders by die Phyl Martinpark en kwekery aangevul.
Een van die belangrikste bydraes wat die 2006 komitee gelewer het, was om direk in gesprek te tree met die burgemeester en Bitou amptenare en sodoende ‘n platform te skep om gebrekkige dienslewering en ander probleme uit te lig. Die 2007 komitee beoog om op hierdie stewige fondament voort te bou.
Ek stel graag die 2007 komitee aan u voor:
· Uitvoerende voorsitter: Ina Brand-van Rooyen, eienaar sedert 1992 en permanente inwoner sedert 2004.
· Adjunk-uitvoerende voorsitter: Douglas Blaine, permanente inwoner sedert 2006.
· Adjunk-uitvoerende voorsitter: Jeanne Biesenbach, tweede geslag eienaar in Nature’s Valley en woonagtig te Montagu.
· Tesourier: Piet Oosthuizen, permanente inwoner sedert 2005, voorheen ‘n bankier van Johannesburg.
· Kantoor: Marie Joubert, welbekende en alombeminde administratiewe beampte en lank reeds ‘n permanente inwoner, bygestaan deur Maaike Murphy wat ook reeds ‘n geruime tyd permanent in NV woonagtig is.
Die onderskeie portefeuljes, in alfabetiese volgorde, word deur die volgende komiteelede hanteer:
· Administrasie en Ledesake (interne kommunikasie): Piet Oosthuizen, Ina Brand-van Rooyen.
· Beboude Omgewing: Jeanne Biesenbach, Stef Naudé, Japie Mohr, Diana Woode, Dries Kruger (gekoöpteer), Jan Strydom (gekoöpteer).
· Covie: Ina Brand-van Rooyen, Jeanne Biesenbach.
· Eksterne Kommunikasie (skakeling met buite organisasies, NRO’s, verenigings en Bitou): Ina Brand-van Rooyen, Gordon Paterson, Marina Niven, René le Roex.
· Finansies: Piet Oosthuizen.
· Geskiedenis en Argief: René le Roex.
· Infrastruktuur (water, elektrisiteit, paaie, riolering, vullisverwydering): Douglas Blaine, Raimund Roberts, Johan Grobbelaar, Bernhard Wiswe.
· Kontraktuele Gebied Bestuurskomitee: Ina Brand-van Rooyen, Michael Perlman, Marina en Patrick Niven (gekoöpteer).
· Nuusbrief: Jeanne Biesenbach, Beefy Mance, Maaike Murphy (gekoöpteer), Anton van Wyk.
· Omgewing (insluitende oop ruimtes subkomitee): Michael Perlman, Marina Niven.
· Strandbeheer en Lewensredders: Michael Perlman, Marina Niven.
· Veiligheid en Sekuriteit: Denzel Dick, Beefy Mance.
Aangesien ‘n spesiale nuusbrief oor die aanbevelings van die Bitou konsep grondoudit in Januarie 2007 aan alle belastingbetalers gestuur is, het ons besluit om nie nog ‘n algemene nuusbrief in die eerste kwartaal uit te stuur nie.
Die res van die jaar sal vir ons net so bedrywig wees as hierdie eerste helfte. Die implikasies wat die nuwe “Integrated Coastal Management Bill” vir ons inhou, moet bestudeer word. Daarbenewens het bobbejane so ‘n groot probleem geword dat ons ‘n bobbejaan alarmprojek met Japie Mohr aan die hoof ingestel het. Verder wil ons graag gesamentlike projekte met die NVTrust aanpak o.a. die opgradering en beskerming van die argeologiese vindplekke oorkant die strandmeer. Ons vra u ondersteuning en deelname aan al hierdie spesiale projekte van 2007.
Ek sluit af met ‘n spesiale versoek. Werk in die Phyl Martinpark het so uitgebrei dat ‘n verlenging van die sprinkelbesproeiingl nodig geword het. Dit sal ongeveer R2000 kos en u word gevra om u hande diep in die sakke te steek vir hierdie goeie doel. U kan betalings gemerk “Phyl Martin” direk in ons bankrekening maak of aan die kantoor stuur. Hartlike dank by voorbaat.
Johan Grobbelaar, Bernhard Wiswe
Water
Sedert die laaste nuusbrief in November 2006 het die munisipaliteit probeer om die doeltreffendheid en betroubaarheid van die watersuiweringsaanleg te verbeter. Danksy volgehoue monitering van die aanleg is goeie kwaliteit water gedurende die Desember vakansie gelewer. Desnieteenstaande bly die funksionering van die aanleg problematies en verg dit daaglikse aandag om betroubare watervoorsiening te verseker. Afrox is verantwoordelik vir die algemene instandhouding van die aanleg en Bitou vir die werking daarvan.
Met die vertrek van Gerhard Strydom sal nuwe personeel verantwoordelik wees vir die daaglikse werking van die aanleg en ons hoop dat dit glad sal verloop.
Die komitee sal poog om vas te stel wat die langtermyn plan van die munisipaliteit met die watersuiweringsaanleg is.
Riolering
Kommentaar is deur die plaaslike rioleringsubkomitee (bestaande uit Geoff McIlleron, Frans Wagener en Frans Kapp), die NVBV komitee, asook belanghebbende eienaars in Februarie 2007 aan Ninham Shand voorgelê in antwoord op die finale konsep omgewingsimpakstudie wat in Desember 2006 aan belastingbetalers bekend gestel is.
Ninham Shand het sedertdien Nature’s Valley besoek om die kommentaar te ondersoek en te verseker dat die finale verslag slegs volhoubare en aanvaarbare opsies voorstel. Hierdie finale verslag behoort in April beskikbaar gestel word.
Paaie
Die verslegtende toestand van die Grootrivierpas is kommerwekkend en daar is toenemende tekens van gedeeltes van die padoppervlakte wat sak. Die kwessie van instandhouding en rehabilitasie van die pas is met die provinsiale padingenieur opgeneem.
Die NVBV het reeds met aanvoorwerk begin om Provinsiale Erfenisstatus vir hierdie geskiedkundige pas te verkry.
Vullisverwydering
Die misbruik van die munisipale stortingsterrein was vanjaar besonder opvallend en die houding van sommige eienaars en huurders, onverklaarbaar, om die minste te sê. Bo en behalwe die feit dat huishoudelike afval sommer buite die gebou gelaat word en die stortingsterrein ontaard in ‘n stinkende, onhigiëniese vullishoop van morsige en geskeurde sakke, hou mense aan om bourommel, tuinafval, huishoudelike toestelle, ens. ens. daar af te sit.
Gerhard Strydom was so gefrustreerd met hierdie uiters onverantwoordelike optrede van sommige eienaars dat hy en die munisipale werknemers ‘n petisie opgetrek het waarin hulle beswaar aanteken teen die toestand van die stortingsterrein.
Eienaars word dringend daaraan herinner dat SLEGS huishoudelike vullis in swartsakke op die terrein toegelaat word en dat swartsakke altyd BINNE IN die gebou afgesit moet word.
Die NVBV het gereël dat die hele terrein voor die Paasvakansie skoongemaak word en het die munisipaliteit genader om die terrein te omhein en stappe te doen om verdere misbruik te voorkom.
Swartsakke wat op die sypaadjie uitgesit word, word deur bosvarke, bobbejane en voëls verskeur en die inhoud rondgestrooi. Huishoudelike vullis moet slegs op die dag wat die munisipaliteit vullis verwyder, uitgedra word. Alle ander tye moet vullis in die stortingsgebou afgesit word. Eienaars moet asseblief sorg dra dat familie / vriende / huurders hierdie regulasies nakom.
Gesprekke is met SANParke en Bitou gevoer om maatreëls in te stel om die bemorsing van die strandmeergebied tydens Kersfees en Nuwejaar te beheer en te verminder.
Ons dank aan alle eienaars wat reeds bydraes vir hierdie finansiële jaar gemaak het.
Bydraes begroot vir 2006/2007 R71 700.00
Bydraes reeds ontvang R121 140.00
Bydraes as % van begroting 168.95%
Getal bydraes uit ‘n moontlike 392 245
% van getal bydraes uit ‘n moontlike 392 62.50%
U volgehoue ondersteuning aan die NVBV word hoog op prys gestel.
Bankbesonderhede:
Rekening : Nature’s Valley Belastingbetalersvereniging
Rekening nr.: 08 260 9217
Bank: Standard Bank
Tak: Plettenbergbaai
Takkode: 050714
Maak asseblief seker dat u NAAM en ERFNOMMER ook op die inbetalingsbewys verskyn vir verwysingsdoeleindes.
Dit lyk asof boubedrywighede in die Vallei aan die afneem is. Slegs een nuwe woonhuis is goedgekeur sedert Julie 2006, en sedert ons vorige nuusbrief (Nov ’06) is slegs die volgende ses planne ingedien, wat almal goedgekeur is:
· 181 St Andrew’s – Harris – gazebo & waskamer aanbouing
· 168 Forest – Blankenberg – brei woonhuis uit; bou bestaande motorafdak toe
· 171 Forest – Dick – uitbreiding aan woonhuis; Wendyhuis
· 111 St George’s – Strydom – veranderings aan woonhuis
· 404 St Patrick’s – Wiehahn / Hattingh – nuwe woonhuis
· 241 St George’s – Lawaaimaker Trust – afwyking van plan vir dek
Geko-opteerde lid
Op grond van die toenemende aantal belangrike sake wat deur hierdie portfolio behartig word, is daar in Maart 2007 besluit om Jan Strydom op die komitee te ko-opteer.
Bitou konsep grondoudit
Na aanleiding van die oorweldigende reaksie wat ontvang is, is dit duidelik dat belastingbetalers deeglik besef watter verreikende implikasies die aanbevelings van die konsep grondoudit vir Nature’s Valley inhou.
Om hierdie rede is dit belangrik om ‘n kort oorsig oor die oop ruimtes en dienste erwe te verskaf.
· Oop ruimtes
In 1995 is die hoogste moontlike bewaringstatus aan die voorste kusduin (erf 444), die Sindikaat strandmeerfront (erf 434) en strandmeerfront en vloedvlakte (erf 382) verleen toe hulle in SANParke ingelyf is d.m.v. die Kontraktuele Gebied-ooreenkoms tussen SANParke, die NVBV en Bitou munisipaliteit en gesamentlik deur hulle bestuur word.
In 2004 het die NVBV SANParke genader oor die moontlikheid van die inlywing van die oorblywende oop ruimtes nl. Fynbosreservaat (erf 460), Phyl Martinpark (erf 429), erf 380 en Woudreservaat (erf 381) in die bestaande kontraktuele gebied – ooreenkoms om sodoende die hoogste moontlike bewaringstatus vir hierdie sensitiewe gebiede te verseker.
In 2005 het die NVBV, bygestaan deur die NVTrust, ‘n omvattende motivering vir die inlywing van hierdie oop ruimtes in die bestaande kontraktuele gebied aan Bitou munisipaliteit, eienaar van die grond, voorgelê. Bitou het nie gereageer nie ten spyte van gereelde opvolging deur die NVBV. Uiteindelik het die munisipaliteit die NVBV in kennis gestel dat die aansoek nie oorweeg kan word totdat die Bitou grondoudit afgehandel is en ‘n finale besluit oor die erwe geneem is nie.
In Oktober 2006 het die NVBV ‘n eerste konsep met aanbevelings van die grondoudit bekom en dadelik tesame met die NVTrust, amptelik beswaar aangeteken by die wykskomitee vergadering en die spesiale uitvoerende burgemeesterskomitee vergadering daarna.
Laat in Desember 2006 het Bitou voortgegaan en die konsep grondoudit aanbevelings gepubliseer vir publieke kommentaar voor 2 Februarie 2007.
o Reeds voor hierdie gebeure het dit duidelik geword dat Nature’s Valley kundige regsadvies sou benodig en het die NVBV bekende Pretoriase firma Len Dekker prokureurs genader om die NVBV te verteenwoordig.
o D.m.v. van ‘n spesiale nuusbrief is belastingbetalers van die konsep grondoudit aanbevelings in kennis gestel en is 321 geskrewe besware per hand by Bitou afgelewer voor die sperdatum van 2 Februarie 2007.
o In Februarie 2007 het mnr Dekker Nature’s Valley vir ‘n dag besoek; vergader met lede van die NVBV komitee en NVTrust verteenwoordigers; is op ‘n begeleide staptoer van al die erwe geneem en het belangrike eerstehandse kennis van al die tersaaklike kwessies opgedoen.
Stand van sake.
Tot op hede was daar geen verdere verwikkelings nie.
· Erwe 335, 336 en 337
In die 1953 Certificate of Uniform Title waarvolgens die dorpstiging van Nature’s Valley gepromulgeer is, is hierdie 3 aangrensende erwe aan die einde van Forestrylaan gereserveer vir dienste erwe. Oor die jare heen is permanente strukure wat verband hou met basiese dienslewering op erf 337 en ‘n gedeelte van erf 336 opgerig terwyl erf 335 ongebruik gelaat is. Gedurende omvattende navorsing deur ‘n kundige riolering-subkomitee na volhoubare rioleringsopsies vir Nature’s Valley, is erwe 336 en 337 geïdentifiseer as die enigste geskikte terrein vir die doel.
In 2005 het die NVBV ‘n omvattende motivering waarin die noodsaaklikheid vir die behoud van hierdie erwe uiteengesit is, aan Bitou voorgelê. Gedurende dieselfde jaar het die munisipaliteit Ninham Shand aangestel om ondersoek in te stel na geskikte rioleringsopsies vir Nature’s Valley.
In 2006 het Ninham Shand aanbeveel dat erwe 336 en 337 vir rioleringsdoeleindes behou word en erf 335 as ‘n buffer.
Die Bitou konsep grondoudit aanbevelings lui dat al drie erwe vir residensiële doeleindes geskik is, en dat erwe 335 en 336 onmiddellik vir die doel beskikbaar is.
In Desember 2006 het Bitou besluit om dadelik erwe 335 en 336 te verkoop. Die NVBV en NVTrust het amptelik hierteen beswaar aangeteken. Ons prokureurs het die munisipaliteit in kennis gestel dat kapitale bates wat vir basiese dienslewering benodig word, nie vervreem kan word nie. Dit is gevolg deur ‘n brief waarin die NVBV appèl aangeteken het teen die besluit van die uitvoerende burgemeesterskomitee om die erwe te verkoop, en gevra het dat die saak voor ‘n sitting van die volle raad dien. ‘n Finale brief is aan Bitou gerig waarin dit gestel is dat die NVBV sou aansoek doen vir ‘n hof interdik indien die munisipaliteit sou voortgaan met hulle plan om die erwe te verkoop.
In Januarie 2007 het belastingbetalers 321 besware ingedien teen die Bitou konsep grondoudit aanbevelings vir die oop ruimtes en die 3 dienste erwe.
In Februarie 2007 het ons prokureur Nature’s Valley besoek en hom vergewis van die stand van die 3 erwe.
Stand van sake.
o Bitou het nog nie ‘n datum bepaal vir die NVBV appèl wat voor die volle raad moet dien nie.
o Die finale Ninham Shand verslag en aanbevelings het nog nie verskyn nie.
o Daar is geen verdere verwikkelings nie.
Erwe 135 en 131: herontwikkeling van die winkel en restaurant
Aangesien hierdie herontwikkelingsvoorstelle ‘n sensitiewe saak is wat die hele gemeenskap raak, is dit belangrik om ‘n kort oorsig te verskaf; enige misverstande uit die weg te ruim en die standpunt van die NVBV te verduidelik.
Tydens ‘n informele verkennende gesprek tussen die eienaar en sy span en lede van die NVBV komitee op 20 November 2006, is die NVBV vir die eerste keer in kennis gestel wat die voorgestelde herontwikkeling van erwe 135 en 131 behels, nl.
· ‘n drie-verdieping gebou met 20 deeltitel wooneenhede waarby ingesluit is
· ‘n nuwe winkel
· ‘n nuwe restaurant
Op grond van die omvang van die ontwikkeling is die eienaar versoek om die konsep-voorstelle vir die duur van die Desembervakansie by die NVBV kantoor te laat en is hy ook ‘n geleentheid gegun om ‘n voorlegging te doen na die Ninham Shand vergadering. Die doel hiervan was om te verseker dat soveel moontlik eienaars die ontwikkelingsvoorstelle onder oë kry.
Nieteenstande die sterk reaksie wat hierdeur ontlok is, kon die NVBV as mondstuk van die belastingbetalers nie op die AJV ‘n deurdagte standpunt inneem voor alle navorsing en die implikasies daarvan, asook gesprekvoering afgehandel was nie.
· Eienaars naasliggend aan die winkel en restaurant het met die NVBV gesprek gevoer en hulle voorbehoude voorgelê.
· NVBV komiteelede het met 3 argitekte vergader om die voorstelle te bespreek en verdere insette is van ‘n vierde argitek verkry.
· Die konsepvoorstelle is aan ‘n stads- en streeksbeplanner voorgelê.
· Volledige titelakte navorsing van die 2 erwe is gedoen; die soneringstatus van die erwe en gepaardgaande regte van die eienaar is bepaal en al die implikasies hiervan is nagevors asook prosedures wat gevolg moet word.
· Op die eerste NVBV vergadering van 4 Januarie 2007 is al hierdie inligting bespreek en die standpunt van die NVBV komitee geformuleer.
· Die samestelling van die Beboude Omgewingkomitee (BO) vir 2007 is gefinalisier aangesien die saak deel van hulle werksopdrag uitmaak.
· Direk hierna het die BO komitee, uitvoerende voorsitter en adjunk-uitvoerende voorsitters met die eienaar vergader waartydens die NVBV sy standpunt oor die ontwikkelingsvoorstelle gestel het.
· ‘n Verslag van die vergadering asook ‘n opsomming van die kommentaar van die argitekte en stads- en streeksbeplanner is op versoek van die eienaar aan hom gestuur.
Die herontwikkelingsvoorstelle van erf 135 en 131 blyk gebaseer te wees op die suksesvolle konsolidasie van die twee erwe om dit as ‘n eenheid te ontwikkel.
Soneringstatus: erf 135 sakesone II
: erf 131 residensieel I (enkel residensieel)
Standpunt
Die NVBV erken die regte wat die eienaar op erf 135 (sakesone II) het, maar kan nie enige verandering in grondgebruik (hersonering), vergunningsgebruik of afwyking wat ter sprake mag wees by die voorgestelde herontwikkeling van erwe 135 en 131, steun nie.
Kortweg behels dit die volgende:
· Erf 135 (sakesone II). Die eienaar het die reg om ‘n winkel en restaurant op die perseel te bedryf in ‘n gebou wat nie twee verdiepings (8,5m) oorskry nie. Volgens hierdie sonering kan daar ook aansoek gedoen word vir sekere vergunningsgebruike o.a. woonstelle.
· Erf 131 (residensieel I). Die NVBV sal ‘n aansoek vir die hersonering van hierdie erf na sakesone II met die doel om erwe 135 en 131 te konsolideer, teenstaan.
· Vergunningsgebruik. Die NVBV sal ‘n aansoek om die vergunningsgebruik om woonstelle op ‘n gekonsolideerde erf 135 en 131 op te rig, teenstaan.
· Afwyking. Die NVBV sal ‘n aansoek om af te wyk van die maksimum toelaatbare hoogte van 2 verdiepings met die doel om 3 verdiepings hoog te bou, teenstaan.
Dit dien daarop gelet te word dat al bg. nl. hersonering, vergunningsgebruik en afwyking in een aansoek saamgevoeg kan word. So ‘n aansoek moet geadverteer word en belanghebbendes kan daarteen beswaar aanteken, en daarna appèl aanteken as besware nie gehandhaaf word nie.
Stand van sake
Tot op hede was daar geen verdere verwikkelings.
Erf 171 Forestrylaan: aansoek om onderverdeling
Die NVBV het in April 2007 ‘n omvattende beswaar by die Provinsiale Administrasie: Wes-Kaap ingedien teen die aansoek om die opheffing van beperkende titelvoorwaardes met die doel om erf 171 in twee dele te onderverdeel.
Die NVBV het ook in Januarie 2006 reeds beswaar aangeteken teen ‘n soortgelyke aansoek om die onderverdeling van erf 152 op die hoek van Berglelie en Forestrylaan. Die saak is nog hangende.
Slot
Die komitee monitor voortdurend al bg. sake en sal die belastingbetalerskorps op hoogte van sake hou. Indien gebeure plaasvind wat die betrokkenheid van eienaars vereis, sal die komitee nie huiwer om weer ‘n spesiale nuusbrief uit te stuur nie.
Ons prokureurs bly ook ten volle ingelig oor die stand van sake en is gereed om op te tree as dit vereis word.
Uit hierdie verslag is dit duidelik dat Nature’s Valley onder toenemende druk verkeer en dat daardeur ook toenemende administratiewe en finansiële druk op die NVBV geplaas word.
U volgehoue en spoedige reaksie asook finansiële ondersteuning is onontbeerlik vir sukses. Hiermee dan ook ons dank aan twee weldoener-eienaars wat R10000 en R5000 respektiewelik vir regskoste geskenk het.
In Februarie is daar vergader met die operasionele bestuurder en streeksbestuurder van ADT om sekuriteitsaangeleenthede in Nature’s Valley te bespreek.
In Maart en April het 5 inbrake plaasgevind. Nie een van die 5 huise het alarmstelsels gehad nie.
Die klem van die Oop Ruimtes subkomitee met voorsitter Jill McIlleron, sal vanjaar weer val op werk in die Phyl Martinpark en die uitroei van indringer plantegroei in Nature’s Valley. Laasgenoemde sal altyd ‘n probleem wees veral swaardvarings en Madeira rankplante. Die NVBV sal finansiële bystand verleen met die arbeidskoste van Phyl Martin en die uitroei van uitheemse plantegroei finansier.
Patrick Niven
Tydens ‘n vergadering van die bestuurskomitee wat op 8 Maart 2007 gehou is, is die volgende punte bespreek: strandmeer besoedeling, bestuur en monitering; die kus bestuursplan; Lagoonrylaan en die parkeerterrein asook die probleme wat op Nuwejaarsdag by die strandmeer ondervind is. Die kwessie van addisionele toiletfasiliteite; brosjures en swartsakke, vure en skade aan plantegroei asook afgebakende parkeergebiede is bespreek en sal gedurende die loop van die jaar aangespreek word om ‘n herhaling te voorkom.
André Riley wat sedert 1988 bewaringsbestuurder van die Tsitsikamma Nasionale Park was, is na Knysna verplaas. Sy noue bande met Nature’s Valley; sy toegewyde en volgehoue diens in belang van die bewaring van die gebied en uitstaande bydrae wat hy as lid van die kontraktuele bestuurskomitee gelewer het, word ten seerste waardeer. Sy vertrek sal ‘n groot leemte laat.
Die projekbestuur van SPI/Iliso konsultante wat verantwoordelik was vir die opstel en publieke deelnameproses van ‘n ontwikkelingsplan vir Covie, loop nou tot ‘n einde.
Ons sal verdere terugvoering verskaf wanneer ons vasgestel het hoe die proses verder verloop en deur wie dit bestuur word.
Kantoor toerusting is opgegradeer met die doel om meer doeltreffende kommunikasie met belastingbetalers te bewerkstellig. Dit sluit ‘n aparte fakslyn in.
Neem asseblief kennis van die volgende belangrike veranderings:
Telefoon: 044-531-6699
Faks: 044-531-6668
Die belangrikheid van die wykskomiteestelsel neem toe maar die doeltreffende funksionering daarvan bly ‘n probleem. Hierdie saak is met die burgemeester tydens die April vergadering van die Bitou Ratepayers Alliance (BRA) bespreek en ‘n wykskomitee werkwinkel is vir Mei beplan.
‘n Verteenwordiger van die NVBV woon alle vergaderings by.
Aan die einde van verlede jaar het die belastingbetalersverenigings van Plettenbergbaai, Keurbooms, The Crags en Nature’s Valley die Bitou Ratepayers Alliance (BRA) gevorm. Elke belastingbetalersvereniging word deur die voorsitter en ‘n adjunk verteenwoordig en vergaderings word maandeliks gehou. Die oorhoofse doel van die vereniging is om sake van algemene en spesifieke belang vir sy lede aan te spreek bv. die wykskomiteestelsel, grond-oudit, GOP, water, afvalbestuur, misdaad en sekuriteit, ens.
Nog ‘n doelstelling is om skakeling met die top struktuur van die munisipaliteit te bewerkstellig en die BRA het reeds daarin geslaag om elke kwartaal ‘n gesamentlike vergadering van die vier voorsitters met die uitvoerende burgemeester te reël. Die eerste vergadering het in April plaasgevind en Ina Brand-van Rooyen het Nature’s Valley verteenwoordig.
Hierdie belangrike inisiatief hou beslis positiewe gevolge in.

Gerhard Strydom. Inwoners het tydens ‘n funksie afskeid geneem van Gerhard Strydom en sy gesin. Die NVBV het tydens hierdie geleentheid ‘n geskenk aan Gerhard oorhandig vir sy dienslewering aan Nature’s Valley die afgelope dertien jaar. Die Strydoms verhuis na Plettenbergbaai en ons wens hulle alle sukses toe met hul nuwe onderneming.
Athol en Heather Aitken van St George’slaan 124 is nuwe permanente inwoners afkomstig van Pietermaritzburg. Ons hoop hulle sal baie gelukkige jare in die Vallei deurbring.
Geoff McIlleron, bekende voëlkenner en fotograaf, is aangestel as die lewenslange erepresident van die Plettenbergbaai voëlklub.
Nature’s Valley Trust. Veels geluk aan die trustees en projekbestuurders Julie Carlisle en Martine Mouton met die toekenning van die 2007 South African National Parks Board Kudu Award vir die beste gemeenskapgebaseerde bewaringsbydrae in Suid-Afrika.
Hierdie sonderlinge eer is ‘n welverdiende beloning vir julle onvermoeide ywer in belang van bewaring en ons is besonder trots op julle!
In Memorian
David Rattray – ‘n huldeblyk
Ons in Nature’s Valley, saam met duisende mense van regoor die wêreld, was diep bedroef en uiters geskok deur die dood van David Rattray by sy huis in Fugitive’s Drift, KwaZulu waar hy soveel vreugde aan so baie mense verskaf het met sy boeiende vertellings oor die Anglo-Zoeloe oorlog van 1879. Hy was nie alleen ‘n meester-verteller en gerekende historikus nie maar ook ‘n entomoloog en vurige voorstander van bewaring. David het mense en die natuur liefgehad; hy het Suid-Afrika liefgehad en was besonder positief oor die toekoms van die land; hy was lief vir Nature’ Valley en het dikwels in hulle huis in St Michael’s kom vakansie hou en visvang. Sy grootste liefde was egter vir die Zoeloemense, hulle kultuur, geskeidenis en taal en hy het met onvermoeide ywer hulle belange bevorder.
Sy heengaan word diep betreur en ons sal sy nagedagtenis koester.
Dr Johannie Cronjé was een van die eerste NG predikante wat kerkdienste in Nature’s Valley gehou het – aanvanklik onder ‘n boom in Forestrylaan. Hy was ‘n natuurliefhebber en het baie gelukkige jare in sy huis “Asemskep” deurgebring.
Barney en Hester Barnardo. Barney was die oudste kleinseun van Hendrik Barnardo op wie se plaas “Grootrivier” Nature’s Valley in 1953 uitgelê is.
Dr Roelof van Wyk ‘n entoesiastiese en kundige natuurliefhebber wat baie jare by “Raap en Skraap” deurgebring het.
| 2004 | 2005 | 2006 | 2007 |
Januarie | 70 | 61 | 89 | 54 |
Februarie | 86 | 49 | 20 | 41 |
Maart | 82 | 109 | 62 | 97 |
April | 61 | 47 | 101 | 30 |
Mei | 21 | 46 | 100 | 102 |
Junie | 42 | 23 | 46 |
|
Julie | 34 | 13 | 91 |
|
Augustus | 38 | 8 | 232 |
|
September | 142 | 34 | 16 |
|
Oktober | 74 | 14 | 57 |
|
November | 20 | 93 | 61 |
|
Desember | 203 | 46 | 60 |
|
Totaal mm | 873 | 543 | 935 | 324 |
![]() |