Nature’s Valley Nuus

 

 

                                                                                                            Posbus 222

Lagoonrylaan 388                                                                                 The Crags 6602

Kantoorure:                                                                                          natrpa@worldonline.co.za

9 – 12 vm                                                                                             Tel:       044 531 6699

Ma/Wo/Do                                                                                          Faks:    044 531 6668

 

Nr 21                                       Redakteur: Jeanne Biesenbach                    Foto’s: Beefy Mance   

November 2007                      Samesteller: Maaike Murphy                                   Frans Wagener

 

Voorsitter: Ina Brand-van Rooyen

 

Die NVBV-komitee bestaan uit 'n aantal uiteenlopende persoonlikhede, elkeen met sy eie belangstellings en kundigheid. Dit stel ons in staat om uiteenlopende projekte aan te pak en verskeie aspekte van ons gemeenskapslewe aan te spreek. Waar ons in ons vorige nuusbrief gefokus het op stedelike beplannings-kwessies, gaan ons in hierdie laaste Nuusbrief van 2007 konsentreer op diens-verskaffing. Ons het heelwat navrae gehad oor die rioleringskwessie en die voorlopige Ninham Shand verslag wat in Desember 2006 aan ons voorgelê is.

 

Op 21 September het ons 'n funksie gehou wat as voorbeeld dien van hoe  uiteenlopende oogmerke geïntegreer kan word. Ons het die burgemeester van Bitou, raadsheer Lulama Mvimbi, na Nature's Valley genooi om drie bome te plant op ons eie boomplantdag. Die bome is verskaf deur die Phyl Martin-kwekery en is geplant voor die afval transito-depot, waar die sypaadjie skoongemaak is tydens die omheining van die terrein. Dit was die eerste geleentheid waar ons gehoor kon gee aan die oorweldigende 'Ja'  vir herbeplanting van die sypaadjies wat gedurende verlede jaar se  bosbehoud meningspeiling na vore gekom het. Dit was ook 'n geleentheid om ons 'Verklein die CO2-voetspoor' projek te loods. Daarbenewens het die seremonie  nie alleen  betrekkinge met die munisipaliteit bevorder nie, maar  ons ook die geleentheid gegee om ons diensteprobleme ter plaatse te illustreer. Raadsheer Mvimbi het in sy toespraak  klem gelê op die unieke karakter van Nature's Valley en sy bereidwilligheid om dit te behou en te beskerm, 'n gesindheid wat weer vir ons 'n aanknopingspunt bied met ons pogings om ontoepaslike ontwikkelings en onderverdelings in ons dorp teë te staan.

 

Neem asseblief kennis van die Algemene Jaarvergadering wat op 27 Desember in die Kerksaal gehou sal word om 18h00. Ons hoop om u almal daar te sien.

 


Infrastruktuur: Doug Blaine, adjunk-voorsitter

 

Watervoorsiening

Die span van die Bitou munisipaliteit wat sedert Gerhard Strydom se vertrek verantwoordelik is vir die watersuiweringsaanleg, kwyt hulle goed van hul taak en watergehalte is oor die algemeen bevredigend, behalwe vir 'n paar probleme wat aanvanklik ondervind is. Gedurende die afgelope paar maande is sekere noodsaaklike herstelwerk gedoen en toerusting vervang, en ons verneem dat daar beplan word om geld te bestee aan kontroles en elektriese komponente wat die betroubaarheid van die aanleg behoort te verbeter.

 

Ongelukkig is daar nog geen amptelike standpunt oor langtermyn planne vir die aanleg nie, en daar is steeds 'n gebrek aan ingeboude noodstelsels wat doeltreffende funksionering sal verseker indien toerusting breek. Die AFROX kontrak vir die instandhouding van die huidige aanleg verstryk eers einde 2009 en dit is te betwyfel of  enige noemenswaardige opgradering of vervanging voor dié datum sal plaasvind.

 

'n Potensieel ontwrigtende toestand het einde Julie ontstaan toe die watervlak van die strandmeer abnormaal hoog gestyg het a.g.v. 'n springgety wat met buitengewone hoë deinings en 'n stormagtige see saamgeval het. Die strandmeer-monding moes oopgestoot word om besoedeling van die varswater voorraad te voorkom. A.g.v. goeie bestuur deur die munisipaliteit is watergehalte nie te erg geraak nie, maar die stelsel moes afgeskakel word en oor 'n tydperk van 12 uur skoon gespoel word om water van aanvaarbare gehalte te verseker. Die bestuur van bostaande aangeleentheid sal indringend met SANParke bespreek word om 'n herhaling te voorkom.

 

Riolering

Besluite wat deur Bitou geneem is t.o.v. die dienste-erwe in Nature’s Valley op grond van aanbevelings in die konsep grondoudit, het daartoe gelei dat geen vordering gemaak kan word met die finalisering van die Ninham Shand omgewingsimpakverslag (EIA) oor die voorgestelde rioleringsopsies vir die Vallei nie.

 

'n Volledige verslag oor die huidige stand van sake en uiteensetting van gebeure wat tot die dooiepunt aanleiding gegee het, word by die nuusbrief ingesluit.

 

Afvalbestuur

Vroeër vanjaar het die NVBV gereël dat die stortingsterrein skoongemaak word en dat alle afvalmateriaal en rommel soos yskaste, stowe, pype, dromme ens. verwyder word. Dit is gedoen om te verhoed dat die depot ooit weer vir hierdie tipe storting gebruik word. Die munisipaliteit het geld beskikbaar gestel vir die opgradering van die terrein en die NVBV het planne opgetrek vir die omheining; aanbring van gepaste hekke met inligtingstekens; lê van plaveisel en die hergebruik van die houer vir afvalglas. Hopelik sal hierdie verbeterings (wat nog nie voltooi is nie) alle eienaars motiveer om die depot reg te gebruik en sodoende 'n esteties aanvaarbare oplossing vir die Vallei te bied.

 

Plettenbergbaai en ander Suidkusdorpe ondervind groot probleme met afvalverwydering. Die bestaande stortingsterrein buite Plett het amper kapasiteit bereik en sal in die nabye toekoms moet sluit. Om die leeftyd van die terrein te verleng, het Bitou begin met 'n stelsel vir die herwinning van huishoudelike afval. Dit is nog nie heeltemal op dreef nie, maar wanneer die stelsel suksesvol funksioneer, sal ons daarop aandring dat herwinning op Nature’s Valley ingestel word, en ons is seker dat die oorgrote meerderheid eienaars dit sal ondersteun.

 

Om die strooiing van vullis deur bobbejane, bosvarke en seemeeue te verminder, is die munisipaliteit versoek om 'wheely bins' aan alle huise te verskaf. Gesprekke is ook met SANParke gevoer om deksels wat dier- en voëlbestand is by die strandmeer vullisdromme en by die paadjies aan te bring. Verskei sulke houers is reeds langs lagoonrylaan geplaas.

 

Tuinvullis

Die verwydering van tuinvullis bly 'n verrassend omstrede kwessie. A.g.v. die misbruik van die ou gruisgat bo die pas 'n paar jaar gelede, moet alle tuinvullis nou by Plett gestort word. Geen munisipaliteit in SA is verantwoordelik vir die verwydering van organiese afval nie. Eienaars moet self hier oor sorg en Nature’s Valley is nie 'n uitsondering op hierdie reël nie. Dit is onaanvaarbare optrede om tuinvullis op 'n sypaadjie, oop erf of oop ruimte te stort, en ons moet maar almal die ongerief verduur van organiese afval binne die grense van ons eiendomme berg tot reëlings vir die verwydering daarvan getref is. Hierdie prosedure sal verseker dat die prag van ons omgewing ongeskonde bly.

 

Planne word beraam om 'n kompos-verwerkingsaanleg wat deur Kurland inwoners bestuur word, by The Crags te skep. Die NVTrust en munisipaliteit is by die projek betrokke en hopelik is die aanleg reeds volgende jaar in werking. Dit sal 'n volhoubare oplossing bied vir die probleem van organiese afval. In die korttermyn beplan die NVBV om 'n ooreenkoms met 'n plaaslike kontrakteur te sluit om 'n geko-ordineerde diens wat reeds in Desember beskikbaar sal wees, aan Vallei eienaars beskikbaar te stel.

 

Paaie en dreinering

Die toestand van paaie in die woongebied het versleg en slaggate het weer na die reën gevorm. Druk sal op die munisipaliteit geplaas word om herstelwerk voor Desember te doen.

 

Die toestand van die Grootrivierpas het nie vanjaar verder versleg nie. Alhoewel die provinsiale padingenieur reeds 'n opname gemaak het van probleemareas, het herstelwerk nog nie 'n aanvang geneem nie.

 

Finansies: Piet Oosthuizen

 

Tans is die finansiële state by die eksterne ouditeur. Die nie-geouditeerde state vir die finansiële jaar wat geldig is vanaf 1 Julie 2006 tot 30 Junie 2007 word as volg opgesom:

 

                    Inkomste                                                                        Uitgawes

               Bydraes                     R124 000                     Bank fooie                                R    1 627         

               Skenkings                  R  12 000                     Rekenaar Sagteware                 R       405

               Rente ontvang            R    9 186                     Kontrakte                                 R  27 794

               Ander Inkomste         R       590                     Donasies                                  R    3 000

                                                                                    Versekering                              R       985        

Internet                         R    1 740

Regskoste                                R    4 475

Nuusbrief                                 R       865        

Ongevalle Versekering  R       390

Huur                                         R    9 200        

Lopende Uitgawes                    R  32 661


Spesiale Projekte                      R    5 335

Telefoon                                   R    6 946

Vervoer                                    R    1 881

WVF                                       R       150

Kantoortoerusting                     R    6 006

Totale Inkomste            R145 776                     Totale Uitgawes                        R103 460

 

Batige Saldo vir 2006/2007  R  42 316

Fondse vanaf 2005/2006      R114 756

Fondse vir 2007/2008           R157 072

 

Vir 2007/2008 is R90 000 begroot vir bydraes; bydraes tot op datum ontvang beloop R57 520 vanaf 133 eienaars. Hiermee wil ons dankie sê aan al die  eienaars wat so vinnig op die omsendbrief  van ons voorsitter gereageer het.

 

Daar bestaan nog steeds onsekerheid by sekere lede vir watter jaar gelde betaal is. Ons finansiële jaar begin op 1 Julie van 'n jaar  en eindig op 30 Junie die volgende jaar. As voorbeeld, sal alle gelde wat in die tydperk 1 Julie 2006 tot en met 30 Junie 2007  inbetaal is, beskou word as bydraes vir die 2006/2007 finansiële jaar en alle bydraes vanaf 1 Julie 2007 tot en met 30 Junie 2008 as bydraes vir die 2007/2008 finansiële jaar.

 

Bankbesonderhede:

Rekening :        Nature’s Valley Belastingbetalersvereniging

Rekening nr.:    08 260 9217

Bank:               Standard Bank

Tak:                 Plettenbergbaai

Takkode:          050714

 

Maak asseblief seker dat u NAAM en ERFNOMMER ook op die inbetalingsbewys verskyn vir verwysingsdoeleindes.

 

 

Beboude Omgewing: Jeanne Biesenbach, adjunk-voorsitter

 

Boubedrywighede: Japie Mohr

Sedert ons vorige nuusbrief (Mei ’07) is een plan goedgekeur vir 'n nuwe woning in Bergleliestraat, een vir 'n redelike groot uitbreiding aan 'n bestaande woning (Forest-rylaan 290), en 5 planne vir kleiner konstruksies soos 'n swembad, motorhuis, buitegebou en motorafdak.

 

Verder is 'n stel riglyne vir eienaars, argitekte en bouers op datum gebring en 'n opsom­ming van die Nasionale Bouregulasies m.b.t. swem­bad­dens is ook opgestel (planne moet hiervoor ingedien word soos vir ander bou­werk). Ons doen 'n dringende beroep op alle eienaars om hierdie riglyne by die NVBV kantoor aan te vra en te bestudeer voor bouplanne opgetrek word.

 

Twee gevalle van boubedrywighede waarvoor geen planne ingedien is nie is onder die aandag van Bitou muni­si­paliteit gebring, en ons wag op terugvoering. Daarteenoor is ons bemoedig deur die samewerking van sommige eienaars, argitekte en bouers.

 


Bitou konsep grondoudit

Ons verneem dat die finale Bitou grondoudit dokument voltooiing nader. Wanneer die grondoudit gefinaliseer is, moet dit weer volgens 'n publieke deelname proses geadverteer word. Nature’s Valley eienaars en ander IAP's sal net een geleentheid hê om appèl aan te teken by die provinsiale administrasie: Wes-Kaap aangesien dit dan 'n provinsiale aangeleentheid is en hulle die finale besluite sal neem.

 

Indien die finale aanbevelings dit regverdig, sal die NVBV dadelik weer 'n spesiale nuusbrief aan alle eienaars uitstuur.

 

Dienste erwe 335, 336 en 337

Tydens 'n vergadering van die Bitou Ratepayers Alliance in Augustus 2007 het die Hoof: Korporatiewe Dienste van Bitou munisipaliteit gesê dat geen verdere stappe m.b.t. erwe 335 en 336 geneem sal word voordat die grondoudit afgehandel is nie.

 

Erwe 135 en 131: voorgestelde herontwikkeling van winkel en restaurant

Ons is in kennis gestel dat die eienaar soneringsertifikate vir die eiendomme aangevra het. Dit behels die volgende:

·        Bitou sal 'n sertifikaat uitreik wat sê wat die soneringstatus van die onderskeie eiendomme is, en gevolgelik watter regte die eienaar in gevolge hierdie sonerings het.

·        Voor die soneringsertifikate uitgereik word, sal Bitou die NVBV en omliggende eienaars in kennis stel wat die voorgestelde sertifikate behels.

·        Ons het dan die reg om beswaar aan te teken en uiteindelik ook om te appelleer indien daar voldoende rede is om dit te doen. Aangesien die voorgestelde herontwikkeling van die eiendomme 'n saak is wat die Vallei as geheel raak, het alle eienaars die reg om beswaar aan te teken en te appelleer.

 

Erwe 152 en 171: voorgestelde onderverdelings

Albei sake is nog hangende.

 

Die NVBV monitor al hierdie sake en sal belastingbetalers op hoogte van enige gebeure hou wat onmiddellike optrede vereis.

 

Veiligheid en Sekuriteit: Beefy Mance

 

Op Donderdag 9 Augustus is 'n Nederlandse familie aangeval deur 5 mans met messe en van R3000 en waardevolle artikels beroof by Klippiesbaai op die Soutrivier staproete. Gelukkig is niemand beseer nie. Die eerste reaksie op hierdie uiters kommerwekkende gebeure was om 'n stewige beloning uit te loof vir inligting wat sou lei tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van die aanvallers. Die toeriste het egter nie 'n klag by die polisie gelê nie dus was daar geen saak nie en is die beloningsvoorstel laat vaar. Die SAPD beveel aan dat sulke gebeure by hulle aangemeld word en 'n klag gelê word sodat die saak ondersoek kan word.

 

Daar was geen verdere insidente nie. Inbrake het verminder sedert die gereëlde patrolering van die strate geïmpleteer is, maar huise sonder alarmstels word steeds geteiken.

 


Omgewing: Michael Perlman, Marina Niven

 

Oopmaak van mond

Teen einde Julie het Nature’s Valley 'n baie stormagtige see wat met springgety saamgeval het, ondervind. Die mond was toe, maar oor 'n tydperk van 2 tot 3 dae het die see a.g.v. buitengewone hoë getye die strandmeer ingestroom. Die strandmeer area is oorstroom en watervlakke het so hoog gestyg dat die opvanggebied van ons water wat bokant die Grootrivierbrug geleë is, aan soutwater blootgestel is. Die munisipaliteit het voortreflik vinnig opgetree en daar was slegs geringe versouting van die water.

 

Die laaigraaf wat gestuur is om 'n kanaal by die mond oop te grawe, kon nie toegang langs die gewone roete verkry nie aangesien die water in die strandmeer-parkeerterrein reeds te diep was. Daar is besluit dat die laaigraaf slegs toegang tot die mond kon verkry vanaf ingang nr. 2 (einde Watsoniastraat) aangesien dit die reguitste, kortste en platste toegang is. Om toegang vir die groot voertuig te verskaf, moes die laaigraaf al die pale van die paadjie met fondamente en al uittrek, mond toe beweeg en die kanaal grawe.

 

Noodtoegang tot strand

Hierdie noodtoestand het bewys dat 'n tweede toegangsroete tot die strand belangrik is. Die strandmeergebied is baie keer tydens die vakansie seisoen so vol dat toegang onmoontlik is. Indien 'n noodgeval op die strand ontstaan wat voertuigbystand vereis, is nog 'n toegangsroete noodsaaklik. Om hierdie rede is besluit dat die paadjie van ingang nr. 2 so aangepas sal word dat dit toegang vir 'n noodvertuig verleen. Veranderings sal op 'n esteties aanvaarbare wyse gedoen word om 'n minimum impak op die duingebied te hê.

 

Strandbeheer

Bitou het ons verwittig dat vakansie reëlings dieselfde as die 2006/2007 seisoen sal wees. Vier lewensredders met die vereiste toerusting sal in die Phyl Martinpark tuisgaan. Hulle sal van 15 Desember tot 15 Januarie diens doen.

 

Oorbesetting van die strandmeer

Tydens die September Kontraktuele Areas-vergadering het SANParke ingestem dat reëlings vir die komende vakansieseisoen aansienlik verbeter sal word. Hulle het onderneem om nie net die getalle mense te beheer nie, maar ook om beheer uit te oefen oor die onbeperkte toestroming van voertuie by die strandmeer. Bykomende vullishouers wat voël- en dierbestand is, is reeds aangebring.

 

Bobbejaan Praatjie: Japie Mohr

 

'Threat or Thrill? Sensible solutions to handle wild life in rural or urban areas'

Hierdie is die tema van 'n baie interessante praatjie wat ons beplan om in samewerk­ing met die NVTrust op Donderdag 20 Desember vanjaar om 6 nm in die kerksaal aan te bied.  Dit sal ongeveer 'n uur duur, en die spreker is mnr Barend le Roux van CapeNature wat jarelange praktiese ondervinding van die kwessie het.  Alhoewel heel­wat aandag aan die saamleef met bobbejane gegee sal word, sal die praatjie ook diere soos die bosvarke, blouapies en seemeeue dek, wat almal van tyd tot tyd 'lastig' kan wees.

 

Almal wat in Nature’s Valley woon of vakansie hou, is bevoorreg om omring te wees deur 'n nasionalepark met volop wildlewe. Soos ons egter ook weet, kan daar van tyd tot tyd konflik ontstaan tussen mens en dier wat saam moet leef in 'n bepaalde omgewing, soos vroeër vanjaar toe twee swerwer bobbejaan­mannetjies ongelukkig in wonings geskiet moes word.

 

Die idee het toe ontstaan om deskundige kennis in te win, en op 3 April is 'n verga­de­ring met CapeNature, SANParke, Bitou Munisipaliteit, NVBV en NVTrust belê. Die verantwoordelikheid van die owerhede t.o.v. die berging en verwyder­ing van huis­vullis is uitgespel, en daaraan word aandag gegee.  Ons as inwoners en besoekers het egter ook 'n belangrike en deurlopende (en heel eenvoudige) rol om te vervul.

 

U word vriendelik genooi om op 20 Desember na mnr le Roux te kom luister, en bring asseblief die kinders saam!  U sal dit baie geniet.

 

Kontraktuele Areas: Michael Perlman, Marina Niven

 

Kontraktuele Areas Ooreenkoms

Ons vestig graag u aandag op die ooreenkoms wat in 1994 aangegaan is tussen die Nasionale Parkeraad (nou SANParke), Plaaslike Raad van Nature’s Valley (nou Bitou munisipaliteit) en die NVBV. Die doel van die ooreenkoms was die inlywing by en bestuur van sekere omgewingsensitiewe gebiede in Nature’s Valley deur SANParke. Die ooreenkoms is tans vir die NVBV van groot belang aangesien veranderings in kernpersoneel van SANParke kommer laat ontstaan oor kontinuiteit en die volgehoue implementering van die bepalings.

 

Volgens die ooreenkoms sou sekere erwe in Nature's Valley vir 'n tydperk van 30 jaar aan SANParke beskikbaar gestel word as kontraktuele gebiede binne die Tsitsikamma nasionale park deur SANParke bestuur word. Die doel van die ooreenkoms is 'to grant the highest conservation status to these properties and to place SANParks in a position, in the spirit of the Act, and with the co-operation and approval of Bitou municipality and the NVRA, to lay down a strategy for the orderly management and control of the properties as a unit of the National Park.'

 

Die kontraktuele areas bestaan uit die volgende erwe:

·        Erf 444. Die voorste duinegebied wat strek van die westelike grens van Nature’s Valley tot en met die strandmeer parkeerterrein en om tot by die grasperk voor die sindikaat. Dit is 'n baie groot en ekologies sensitiewe gebied.

·        Erf 434. Die grasperk aan die strandmeer kant van die sindikaat. Dit is 'n publieke oop ruimte, deel van die kontraktuele gebied en nie privaatgrond soos baie mense dink nie.

·        Erf 382. Die oorblywende deel van die strandmeer vanaf die grens van erf 434 al langs Lagoonrylaan tot by die ingang van Nature’s Valley. Hierdie belangrike gebied vorm deel van die Grootrivier vloedvlakte.

 

Volgens die ooreenkoms het SANParke onderneem om:

·        te sorg vir die netheid van die kontraktuele areas, vullisverwydering en beheer van die toiletfasiliteite;

·        voorsiening van toegangsroetes tot die see en onderhoud daarvan;

·        onderhoud van, en beheer oor, die openbare parkeerterrein by die strandmeer. Met die instemming van al drie partye van die ooreenkoms, sal hulle, veral gedurende die vakansieseisoen, die aantal mense en voertuie by die strandmeer-monding beheer;

·        die regte van Nature’s Valley eienaars soos toegang tot die strandmeer, see en strand, bootry en hengel, te verseker;

·        die oopmaak van die mond wanneer nodig, te moniteer en te bestuur;

·        verbied dat enige strukture opgerig word of sakebedrywighede plaasvind in hierdie gebiede sonder toestemming van al drie partye.

 

Administrasie en Lidmaatskap: Ina Brand-van Rooyen

 

Ten spyte van 'n erg ontwrigde tweede helfte van die jaar waarin die voorsitter, een adjunkvoorsitter, die tesourier en senior lede van die komitee almal onvermydelik  afwesig was, het die kantoorpersoneel hulle werk onverstoord voortgesit, en verdien hulle ons hartlike dank.

 

Ons is bevoorreg om 'n besondere hoë ondersteuning te hê. Gedurende die afgelope twee jaar het meer as 65% van Nature's Valley se huiseienaars bydrae gemaak.  Die reaksie op ons onlangse beroep was ook besonder goed en ons het reeds 133 bydraes vir die 2007/2008 finansiële jaar ontvang. Ook hier moet die kantoorpersoneel van harte bedank word vir hulle reuse werk.

 

In die kantoor is daar nog 'n hele aantal groen plakkette wat nie opgeëis is nie. As u reeds u bydra gemaak het en nie u plakket ontvang het nie, kom haal dit asseblief af wanneer u weer 'n geleentheid kry, of stuur aan ons die instruksies om dit op u hek of heining te laat aanbring.

 

Ons wil graag ons kantoor 'n vriendelike en gesellige bymekaarkomplek maak en het reeds verlede jaar daarmee begin deur 'n galery van ou fotos teen die mure aan te bring. Het u dalk enige ou, interessante inligting oor Nature's Valley in u besit? Ons soek na foto’s, pamflette, en koerantartikels. As u sulke dokumentasie het, stuur asseblief vir ons afskrifte (of oorspronklikes!) en kom kuier vir ons om u bydraes uitgestal te sien!

 

Beroep op eienaars

Die jaar het vinnig aangestap en ons begin reeds voorbereidings tref vir die komende Desember-vakansie-seisoen. Daar was ongelukkig verlede seisoen 'n aantal probleme met die goeie orde, wat ons graag vanjaar wil uitskakel. In sommige huise met infrastruktuur vir hoogstens twaalf mense, was daar groepe van 20 tot 30 veral in die voor-vakansietydperk waartydens studente en matrieks hulle tradisionele losloopding doen. Dit het groot probleme met toiletgeriewe en riolering veroorsaak. Gedurende die loop van die jaar het ons hieroor samesprekings gehou met die verhuringsagente wat  in Nature's Valley werk. Hierdie samesprekings was uiters vrugbaar, maar die oorgrote meerderheid huise word privaat verhuur en dis hier waar u ons te hulp kan snel.

·        Maak asseblief seker dat u huurders nie die kapasiteit van u huis oorskry nie - en vra sommer ook dat (veral jong) bestuurders nie so vinnig en lawaaierig in die strate moet rondkerjakker nie. Daar was verlede seisoen twee motorongelukke in ons stil dorpie!

·        Die ander probleme waarmee ons seisoenaal geteister word - onverantwoordelike vullisstrooiing, lig en geraas besoedeling - kan ook deur u beheer word. Maak asseblief seker dat u huurders (en uself) vullissakke slegs op die aangewese dae uitsit. Op ander dae moet vullissakke by die afvaltransito depot binne-in die gebou geplaas word.

·        Bring ook asseblief onder die aandag van almal wat u huis gebruik, dat Nature's Valley omring is deur 'n nasionale park en dat ons trots is daarop dat wilde diere, sowel as klein kindertjies, 'n veilige, ongestoorde bestaan in ons dorp kan voer. Die spoedgrens in Nature’s Valley is 40km/h.

·        Graag vestig ons u aandag op die nuwe rubriek, 'Van ons GSB' wat in ons Nuusbrief ingesluit is en waarin daar verdere riglyne vir vakansiegangers en eienaars neergelê is.

 

Eksterne Skakeling en Wykskomitee: Gordon Paterson

 

Die Bitou Ratepayers Alliance (BRA) vergader steeds kwartaalliks met die burgemeester. A.g.v. die feit dat die burgemeester gedurende die loop van die jaar onder al hoe groter druk verkeer het weens korrupsieklagtes teen senior personeel en diensleweringsprobleme in die woonbuurtes, het die doeltreffendheid van die vergaderings afgeneem. Die BRA het gevolglik direk met senior munisipale bestuur geskakel en met sukses gekonsentreer op 'n meer doeltreffende implementering van die wykskomiteestelsel waar die fokus geskuif het na kernkwessies in die onderskeie gemeenskappe.

 

Dit hou die volgende implikasies in vir ons Wykskomitee Verteenwoordiger (WKV), Paul Zietsman, wat 'n permanente inwoner van die Vallei is. Paul is die voorsitter van 'n nuwe subkomitee waarin Nature’s Valley, Covie en Kurland saamgegroepeer is. Hulle vergader in die middel van die maand om diensleweringskwessies te bespreek. Daarna word hierdie aangeleenthede met die wykraadslid bespreek en dan in die sakelys van die amptelike wykskomitee vergadering opgeneem. Hieruit is dit duidelik dat die WKV die aangewese wyse is om met ons raadslid in gesprek te tree. Die administratiewe funksie van die stelsel word deur ons gemeenskap skakelbeampte Mornay du Plessis, vervul. Aangesien die raadslid vir ons wyk voortdurend afwesig was, moet die doeltreffendheid van die stelsel nog bewys word. Die NVBV maak steeds gebruik van lank gevestigde skakeling met middelvlak en senior munisipale bestuur.

 

'n Paar woorde van ons Gemeenskap Skakelbeampte (GSB): Mornay du Plessis

 

Liewe honde-eienaars, huiseienaars en vriende in en van Nature’s Valley.

 

Somtyds voel honde eienaars dat mense daarop uit is om die lewe moeilik te maak en dat daar geen honde liefhebbers in 'n gemeenskap is nie. Dit is 'n verkeerde persepsie, maar die feite van die saak is dat enige munisipaliteit alles wat onder sy jurisdiksie val, moet bestuur en sover moontlik na alle partye se belange moet omsien.

 

Honde in openbare plekke was nog altyd 'n omstrede kwessie, en vergun my asseblief die kans om sommige bywette aangaande honde en hulle hantering in die groter Bitougebied aan u te verduidelik.

  1. Om onbeheerde teling en wreedheid teenoor honde te verhoed, bepaal die bywette dat geen persone behalwe 'n geregistreerde teler meer as twee honde per eiendom mag aanhou nie.
  2. Wanneer 'n hond buite die eiendom van sy eienaar is, moet dit aan 'n leiband wees. Dit geld vir strate en alle openbare plekke.
  3. Om ons almal te beskerm en om stap, die gebruik van die strand en ander openbare plekke 'n aangename ondervinding te maak, bepaal die bywette dat die verantwoordelike persoon/eienaar toegerus moet wees met die nodige sakkie, grafie ens. om te verseker dat honde ontlasting opgetel en verwyder word.
  4. Honde word slegs op strande wat deur die Raad vir hierdie doel aangewys word, toegelaat. Nature’s Valley se strand is nie een van dié strande nie. Aangesien die strand deur SANParke bestuur word is 'n vergunning gemaak om honde voor 9h00 en na 16h00 op die strand toe te laat, onderhewig aan die voorwaardes in 2 en 3 hierbo. Honde word nooit op die strand oos van die strandmeer toegelaat nie.

 

In Nature’s Valley wat deur 'n nasionale park omring is, is dit belangrik dat wanneer 'n hond nie aan 'n leiband is nie, hy binne 'n omheinde deel van die erf aangehou word. Met wild wat vryelik rondbeweeg is dit belangrik vir die veiligheid van die hond en wild.

 

Om almal se onthalwe, met honde as ons vriende en die natuur as ons lewensruimte, laat ons aan hierdie vereistes gehoor gee en in vrede saamleef.

 

(Gratis honde higiëne sakkies is beskikbaar by die winkel, die NVBV- en NVTrust-kantoor en die kantoor van die GSB)

 

Mense en gebeure: Michael Perlman

 

In Memoriam

Monica Hepburn wat lank 'n huiseienaar in Nature’s Valley was. Ons innige meegevoel aan haar familie.

 

Francois de Villers, kleinseun van Frank en Olive le Roex, stigterslede van die sindikaat en van die eerste gereëlde besoekers aan die Vallei. Hy het op die familieplaas in Bethulie geboer en grootgeword met Nature’s Valley as 'n tweede tuiste. Ons innige meegevoel met sy familie, vrou Ina en kinders Lucille and Eugene.

 

Chris Smit, die bekende bou-kontrakteur, het op 2 November tragies gesterf in 'n motorongeluk.

 

Reënvalverslag: Yvonne Bath

 

 

2004

2005

2006

2007

Januarie

70

61

89

54

Februarie

86

49

20

41

Maart

82

109

62

97

April

61

47

101

30

Mei

21

46

100

102

Junie

42

23

46

41

Julie

34

13

91

40

Augustus

38

8

232

55

September

142

34

16

18

Oktober

74

14

57

86

November

20

93

61

 

Desember

203

46

60

 

Totaal mm

873

543

935

564